Meer oor ons gemeente

Ons Gemeente

Ons is 'n Nuwe Testamentiese plaaslike gemeente en nie deel van enige denominasie of kerkgroep nie.

Ons verkondig die Bybel as die letterlike woorde van God in opregtheid, in gebondenheid met Christus en in opdrag van God. As dienaars van die Nuwe Verbond (2 Kor. 4:1) word die aangename geur van die kennis van Christus deur ons oral versprei sodat mense tot geloof en redding kan kom. Ons deel ons hoop in die opstanding van die liggaam en die spoedige terugkeer van die Here Jesus vir Sy bruid met almal om ons (2 Kor. 2:14-17; 3:6-12).

  • Ons bied praktiese toerusting vir dissipelmakers
  • Ons sorg in liefde vir mekaar
  • Ons bestuur ons eie sake

Dit beteken:

  • Ons preek die Bybel letterlik (nie vergeestelik of tematies nie)
  • Ons verkondig Christus wat gekruisig is, opgestaan het en weer gaan kom

Ons Musiek

Ons musiek pas by die stemming waarin die Woord van God gepreek word. Dit oorheers nie die diens nie en is nie gevul met oordrewe herhaling of tierlantyntjies nie. Ons musiek word gekies vanuit betroubare bronne waar daar 'n goeie balans is tussen die melodie, ritme en harmonie.

Ons gemeentelike musiek poog nie om die opsweping van emosies moontlik te maak of om mense in oordrewe aanbidding te lei nie. Ons gebruik die musiek in ons dienste om lede die geleentheid te gee om mekaar daarmee op te bou en teenoor mekaar te getuig van Jesus.

Groot is U trou o Heer.wmv
Here Help My.wmv
Hier is ek stuur my.wmv
Dag vir dag.wmv

Wat is 'n Nuwe Testamentiese Gemeente?

Handelinge 2:41-44 sê: “Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drie duisend siele toegebring. (42) En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede. (44) En almal wat gelowig geword het, was bymekaar, en het alles gemeenskaplik besit.

Ons glo dat ons Kerk 'n byeenkoms van wedergebore gelowiges is, wat die Woord van die Here met blydskap aangeneem het, en wat saamkom om daaruit te leer en God te aanbid. Ons kom saam om teenoor ander te getuig van ons verlossing deur gedoop te word, en onsself in 'n plaaslike gemeente, wat geen oorhoofse organisasie of sinode het wat ons bedrywighede reguleer nie, beskikbaar stel om te dien.

As ons saamkom dan ontvang ons lering uit die Woord van God en wys ons dankbaarheid vir God se genade deur mekaar in liefde te dien. Ons vier die Nagmaal in eenvoudigheid van hart nadat ons deur sondebelydenis teruggedink het aan daardie gebeurtenis aan die kruis van Golgota toe Jesus Christus Sy sondelose lewe vrywilliglik vir ons gegee het. Ons bid vir mekaar en vir ander mense sodat hulle ook die Evangelie van God se genade kan glo en tot redding kan kom.

Ons samesyn is gesellig, maar gewyd en ons kies om nie die hedendaagse neigings in musiek en kerklike liturgie deel te maak van die heilige liggaam van die Here Jesus Christus nie.