Sagmoedigheid

Sagmoedigheid

Dawid beskryf die sagmoedigheid van die Here as sy “neerbuigende goedheid” (2 Sam 22:36; Ps. 18:35). Salomo sê dat sagmoedigheid besit oorredingsvermoëns, “Deur lankmoedigheid word ‘n vors oorgehaal , en ‘n sagte tong verbreek die gebeente.” (Spr. 25:15) Die NLT vertaal hierdie vers as, “ ‘n Leier kan met geduld oorreed word. Versigtige woorde breek harde weerstand af.” Jesaja sê dat die herderskap van die Messias deur sagmoedig gekenmerk sal word, “Hy sal die lammer in sy arm vergader… die lammerooie sal Hy saggies lei.” (Jes. 40:10,11). Sagmoedigheid het volgens die O.T. dan die vermoë om die sterkste opposisie te oorreed en is om sy suiwerste as hardheid met sagtheid bedek word.

In die N.T. het Jesus na sagmoedigheid verwys toe Hy sy dissipels gestuur het “soos skape onder die wolwe” en hulle aangesê het om “versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe” (Matt. 10:16) te wees. Op ‘n ander plek het Hy sy eie karaktereienskap van sagmoedigheid gebruik om hulle te bemoedig, “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele” (Matt. 11:29). Paulus self het getuig van Jesus se sagmoedigheid in sy pleidooi, “En ek self... bid julle by die sagmoedigheid en vriendelikheid van Christus, (2 Kor. 10:1) . Sagmoedigheid is saam met liefde, blydskap, vrede en ander ‘n eienskap van die vrug van die Heilige Gees (Gal. 5:22). Hy vermaan ook die Christen om “te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is, met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra” (Ef. 4:1-2). Christene moet hulleself beklee met “innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.” (Kol. 3:12) en ook die regte gesindheid te hê teenoor die Woord. Hy sê, “doen afstand van alle vuiligheid en oorvloed van boosheid, en ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord” (Jak. 1:21).

Paulus gebruik ook sagmoedigheid as een van die sleuteleienskappe van iemand wat ‘n bediening in iemand se lewe wil hê. Hy sê, “ons was vriendelik onder julle soos ‘n pleegmoeder haar kinders koester.” (1 Thess. 2:7) Hy gee ook raad aan die kerk as hy sê, “as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.” (Gal. 6:1) Hy leer ook die jong leraar, Timotheus en sê, “ ‘n dienskneg van die Here moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal... Hy moet die weerspanniges in sagmoedigheid teregwys, of God hulle nie miskien bekering sal gee tot die kennis van die waarheid nie” (2 Tim. 2:24-25). Dit is volgens Paulus belangrik vir enige bedienaar “om niemand te belaster nie, nie strydlustig te wees nie, vriendelik te wees en aan alle mense alle sagmoedigheid te bewys” (Tit. 3:2) en van sonde wegvlug deur te “jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid.” (1 Tim. 6:11). Die bedienaar moet “bereid (wees) om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees” (1 Pet. 3:15). Sagmoedigheid sal sonder enige twyfel ‘n baie groot invloed in ons huwelike en gesinslewe hê en ouers word aangemoedig om ‘’n voorbeeld daarvan vir hulle kinders te wys en hulle so te leer.