Die Bewyse van die Georganiseerde Kerk

deur Chris Wilhelm


Daar is vandag ‘n groeiende aantal Christene wat leer dat daar geen bewyse in die Bybel is dat die kerk formeel byeengekom, soos wat die meeste kerke dit vandag doen nie. Alhoewel hulle ook erken dat gelowiges byeen moet kom om sekere gebruike soos die Nagmaal, Bybellesse en gebed te beoefen, is dit volgens hulle, nie nodig vir kerkdienste en te veel organisasie nie.

As gevolg van hierdie leer vervang huiskerke en informele groeperings soos internetkerke, met min leierskap en formele lering, die tradisionele kerke. Dikwels word hierdie beskouing van die “gemeenskap van die gelowiges” geneem van ‘n unieke beskouing van die sogenaamde informele byeenkomste wat in Handelinge beskryf word.

Die Bybel is egter vol bewyse van die formele en georganiseerde manier waarop die Heilige Gees te werk gegaan het om spesifieke mense te evangeliseer, kerkstigtingspogings deur die apostels van stapel te stuur en deur die werk van die apostels manne aan te stel om die kerke op ‘n georganiseerde manier te lei en versorg. Formele bedieningswerk het in handelinge begin om kerke te bearbei en die evangelie te versprei. Ons wil erkenning gee aan die feit dat hierdie formaliteite wel deur die plaaslike gemeentes self behartig is en nie deur ‘n sinode nie. Die volgende is bewyse van hiervan:

Die Bewyse van Organisasie van die Eerste Gemeente

Die kerk het begin met ‘n stel leerstellings wat die “leer van die apostels” genoem is (Hand. 2:42; Ef. 2:20); hulle het begin om gereeld byeen te kom vir prediking en eendragtige gebed (Hand. 2:42; Matt. 18:19,20); mense is gedoop (Hand. 2:41) en die Nagmaal is gevier (Hand. 2:42,46); hulle het telling gehou van dié wat tot die gemeente bygevoeg is (Hand. 2:14,41; 4:4); hulle het in die openbaar ontmoet om saam te aanbid; hulle het finansieel bygedra tot die behoeftes van dié wat nie die vermoë gehad het om vir hulleself te voorsien nie (Hand. 2:44,45); hulle het formele ontmoetingsplekke gehad (Hand. 2:46; 3:1); en formeel diakens aangestel om die apostels in hulle werk te ondersteun. Hierdie aktiwiteite was ook heeltemal verskillend van die Ou-Testamentiese tempeldienste.

Amptenary in die Gemeente

Die apostels het die gemeente gelei om diakens te kies om die weduwees te versorg (Hand. 6:1-7). Paulus het manne formeel aangestel om die geestelike leiding te neem in die nuwe gemeentes wat gestig is (Hand. 14:23). Hy het vir Titus gevra om ouderlinge aan te stel (Tit. 1:5). In Efese word melding gemaak van die ouderlinge wat leiding neem (Hand. 20:17); in Antiochië was daar profete en leraars (Hand. 13:1); en in Filíppi opsigters en diakens (Fil. 1:1).

Hierdie manne het formeel as voorgangers, opsigters en toesig-houers van die gemeente bekendgestaan en moes waak vir die siele van die gemeente, seker maak dat eenheid behou word en uitkyk vir die wolwe (valse leraars) wat die gemeente sal opbreek (Heb. 13:7,17; 1 Pet. 5:2,3)

Byeenkoms van die Gemeente

Net na die opstanding van die Here Jesus het al die dissipels (al die volgelinge van Jesus) begin om op die eerste dag van die week, die Opstandingsdag, saam te kom (Joh. 20:19,26; Hand. 20:7; 1 Kor. 11:18,19), aanvanklik in sinagoges, maar meestal in bo-vertrekke. Die gemeente was gewoond daaraan om vir weeklikse en spesiale geleenthede saam te kom (Hand. 4:31; 11:26; 14:27; 15:6,30; 19:7,8; 1 Kor. 5:4). Paulus het die gemeente in Korinthe opdrag gegee om op hierdie eerste dag van die week iets opsy te sit wat as ‘n offergawe opgeneem sou word (1 Kor. 16:2). Hierdie onderlinge byeenkomste moes nie uit gewoonte gemis word nie (Heb. 10:25).

Orde in die Gemeente

Hulle het sekere regulasies gevolg wat die dienste aanbetref (1 Kor. 11:17-20; 14:34). Jesus het geleer dat die kerk diegene wat nie aan private vermaning gehoor wou gee nie, voor die gemeente moes bring vir vermaning tot inkeer (Matt. 18:17). Paulus het die kerk geleer dat hulle kerklike dissipline moes toepas (1 Kor. 5:13; Rom. 16:17). Sekere mense, soos in die geval van Diotrefes, het hulle nie aan die instruksie en dissipline van die apostels gesteur nie (3 Joh. 10). Die gemeente moes homself beskerm teen valse leer, onsedelikheid en rebelsheid teen sy eie leierskap.

Finansiële Geldelike Bydraes van die Gemeente

Elkeen is aangesê om finansieel by te dra deur middel van vrywillige offergawes, wat op die eerste dag van die week ingesamel moes word (1 Kor. 16:1,2). Die gesindheid, doel en die hoeveelheid word ook aangewys (Rom. 15:25-28; 2 Kor. 8:1-5, 7-9; 9:6,7). Die bydraes, wat deur die gemeente opgeneem is, is deur die apostels aangewend in die ondersteuning van die gemeentelike bediening en die versorging van die hulpbehoewendes.

Aanbevelingsbriewe tussen Gemeentes

Aanbevelingsbriewe is gebruik toe Apollos van Efese na Korinthe verplaas is (Hand. 18:24-28) en toe Fébe van een gemeente na ‘n ander gegaan het (Rom. 16:1,2).

Formele Besluite oor Evangeliesake

Die raad in Jerusalem moes besluit hoe die heidense gelowiges hanteer moes word (Hand. 15:22-29).

Opsomming

Die plaaslike kerk is van die begin af geleer om op ‘n georganiseerde manier te werk. Hierdie georgani-seerde optrede het hulle samekomste, leierskap, dissipline, finansiële bydraes en kommunikasie tussen gemeentes georden. Die gemeente moes besluit watter mans (diakens en herders) gekies moes word om te sorg vir die geestelike welstand van individue. Dit is dus nie so belangrik waar die ontmoeting plaasvind nie, maar wat die ontmoetings behels, wie daarvoor verantwoordelik is en wat die vrywillige bydraes van elke gelowige daartoe is.

Informele groepe en huiskerke kan nie as kerke beskou word as hulle nie voldoen aan die aspekte van die geestelike organisasie wat die kerk van Christus, volgens die Nuwe Testament, vereis nie. Let wel, hier verwys ons nie na tradisie of denominasie nie, maar na geestelike orde. Die kerk is véél meer as net ‘n organisasie, dit is ‘n lewende organisme; die liggaam van Jesus Christus. As die aspekte van die organisasie van die kerk nie funksioneer nie, sal die seëninge van die organisme ook nie tot sy volle reg kan kom nie.

Bibliografie

Henry C. Thiessen. Introductory Lectures In Systematic Theology, WM. B. Eerdmans Company. Grand Rapids, Michigan, 1949.