Die viering van Pinkster

1. Kerklike Tradisie

Van die ontstaan van die onafhanklike en evangeliese Bybel kerke (soos ons kerk), was die kerke minder gesteld op die tradisies en gebruike van die denominasie of liturgiese kerke en wou meer (letterlik) Bybels wees. Dit beteken dood eenvoudig dat tensy die Bybel dit uitdruklik vereis, hulle nie verplig gevoel het om enige van die “tradisies” of gebruike van die groter denominasies te volg nie. Hierdie onafhanklikheid wat tradisies, gebruike en liturgie aanbetref, kom van die begin van die protestante beweging af, waar onafhanklike Bybelse kerke totaal wou wegbreek van enige deelname of assosiasie met die formasies of tradisies van die Rooms-Katolieke kerk.

2. Baptiste Kenmerke

Een van die kenmerke van die onafhanklike Baptiste kerke is dat ons glo in die outonomie van die plaaslike gemeente eb voel ons onder geen verpligting om enige iets te doen wat “ander” kerke doen nie, maar staan verantwoordelik teenoor die Here en mekaar om die Bybel letterlik te preek en gehoorsaam te wees. Dit beteken natuurlik nie dat ons niks hoegenaamd te doen wil hê met die kerklike feesdae nie, maar ons siening en gebruik daarvan is verskillend. Kersdag bv. fokus ons die aandag op die vleeswording van Jesus Christus en die evangelie en Paasfees weer gebruik ons om die evangelie van Jesus se kruisdood te beklemtoon.

3. Om Letterlik Bybels te wees

Dit bring ons dan by die belangrikste punt – dit wat die Bybel hieroor te sê het.

Ons erken ten volle dat die Heilige Gees letterlik in Handelinge 2 uitgestort is en dat die kerk met hierdie gebeurtenis begin het, net soos die Here Jesus dit bepaal het (Matt. 16:18). Daarmee saam erken en leer ons ook die feit dat die Bybel ons in die besonder leer oor die waarde en betekenis van die gebeure rondom Pinkster – eerstens as ‘n Ou-Testamentiese feestyd (1 Kron. 23:28-31) wat slegs ‘n skaduwee was van die Nuwe Testament werklikheid (Kol. 2:16-17) wat in Christus vervul is – die uitstorting van die Heilige Gees en die koms van die Nuwe Verbond .

Daar is egter geen spesifieke opdrag van Jesus of die apostels dat ons dit as gemeente of individue sal vier of herdenk nie. Ons vind meer tekste wat ons waarsku om nie gebruike en feesdae te misbruik (Gal 4:10) en te vergeet waaroor dit eintlik gaan nie (Kol. 2:16). Om die waarheid te sê, is daar slegs twee kerklike gebruike wat die Bybel ons opdrag gee om te doen en te herdenk en dit is die doop van gelowiges (Matt. 28:19 “Gaan dan heen en, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees) en die nagmaal (1 Kor. 11:23-27 “Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het...").

Laastens wil ek net sê dat alhoewel ons gemeente (en ander soos ons) letterlik Bybels wil wees, ons nie in die geheel gekant is teen die “kerklike feesdae” of ander wil oordeel wat dit wel waarneem nie (Rom. 14:3-6), maar neem dit nie formeel waar nie omdat ons dit nie as ‘n tradisie wil vestig wat die aandag van Christus sal aftrek nie. Die feesdae in die Ou Testament, was bloot ‘n skaduwee wat ons na Christus sou wys. Met Sy koms, is die behoefte na ‘n meer Ons gebruik hierdie dae en tye dus as geleenthede om die evangelie te verkondig en die aandag op Jesus Christus te plaas. Dit was dan ook my doel met hierdie tyd – ‘n studie van Kolossense, waar ek die gemeente se fokus op Christus plaas.