Sewe Karakterbou Beginsels vir die Gesin

Deur Chris Wilhelm


Die gesin was naas die huwelik die eerste menslike instelling van God op aarde. Voordat daar ‘n regering of ‘n kerk was, het God, in die tydperk van onskuld, die huwelik ingestel en die gesin as die basiese boublokke van die samelewing daargestel. God het van die begin af bepaal dat die klein groepie van die gesin die eenheid is waarin volwassenes hulle vervulling soek en waarin kinders ‘n veilige hawe het om te ondersoek, te vra en te leer. As die samelewing stry vir die regte van die individu (bv. kinderregte, feminisme, saambly eerder as trou), breek dit hierdie God-ingestelde eenheid af en sal die samelewing daaronder lei. Dit is die wil van God vir elke individu om hulle rol in die gesin te verstaan en met die regte gesindheid te vertolk in gehoorsaamheid aan God. Die volgende is sewe beginsels wat ouers kan gebruik om karakter te bou in hulle gesinne en weer God se prioriteit vir die samelewing te herstel.

#1. Verander Deur Geestelike Groei (Rom. 15:13; Fil. 4:8-13; 2 Pet. 3:1-7)

Sukses kom nie deur aanskaffing, prestasie of vooruitgang nie, maar deur volgehoue oefening en groei. Ons moet ons gesinne lei in ‘n daaglikse toewyding om te groei deur volgehoue oefening. As jy dit ten doel stel om elke dag ‘n bietjie te groei, sal dit nie lank wees voordat jy die positiewe resultate in jou eie lewe sien nie, maar ook in die lewens van jou kinders. Lei jou gesin om te verander en om hulle verandering te deel met ander en om in ander se visie om te verander te deel. Lei jou gesin om gewillig te wees om na ander se visie te luister en daarin te deel. Wei jouself toe aan ander en leef ter-wille-van-ander! Laat jou gesin weet dat jy die Here vertrou om jou te verander en vertrou die Gees van die Here om beheer te neem van die verandering en die resultate.

#2. Moedig Onderlinge Stigting Aan (Rom. 14:19; Ef. 4:22-29)

Leer jou kinders ‘n waardering vir die proses van verandering eerder as die gebeurtenis van verandering. Sekere gebeure in ons lewens gee ons die geleentheid om goeie besluite te neem, maar dit is die proses van verandering wat ‘n langdurige waarde het. Wys jou waardering vir die tipe oorsaak en gevolg aspekte van die lewe wat ware doeltreffendheid bevorder. Leer jou kinders om die lewe as ‘n student van die aksies en reaksies, oorsaak en gevolg dinge in die lewe te bestudeer. Wys jou kinders gereeld daarop dat hulle God se voorsienende werk, vir die wat Hom liefhet, moet onthou.

#3. Pak Probleme Saam Aan (2 Tim. 1:7; Kol. 1:9-10)

Wees ‘n voorbeeld van en praat baie oor die feit dat hulle die uitdagings en probleme van die alledaagse lewe moet aandurf vanuit ‘n diep sin van hulle toewyding aan God en deur selfbeheersing. Moenie wag vir ‘n wonderwerk of inspirasie om ‘n taak aan te pak nie, maar kies tye wat soms ongewoon voorkom. Omdat God ons pogings sal seën, is hulle wat gaan, doen en voltooi, ten spyte van hoe hulle voel, die wat deur God se Woord gemotiveer word tot hoër hoogtes. Bespreek die oplossing van probleme saam as ‘n familie en vra vir insette van almal, daarmee demonstreer ouers dat ons eers moet dink en bid en dan doen! Dit is in hierdie sessies dat ons hulle kan leer om op ‘n gereelde basis goddelike advies te soek.

#4. Maak Opofferings (2 Kor. 8:9; 1 Joh. 2:6; 15-17)

Verduidelik aan jou gesin hoe en waarom jy sekere plesiere opoffer vir die geleentheid om God te dien. Die gesin of individu in die gesin se ander prioriteite moet nooit die gesin weerhou om die Here te dien nie. Ons kan ons familie se innerlike lewe beskerm deur die Here saam te dien. Om geestelike en praktiese dinge saam as ‘n familie te doen, sal ‘n groot verskil maak in die latere leefstyl en keuses van ons kinders (1 Joh. 3:16).

#5. Bespreek Die Hoop van Sy Roeping (Fil. 2:1-5; Ef. 1: 17-21)

Droom en hoop! As iemand hulle drome en hoop navolg, sal hulle hoër hoogtes kan bereik. Die lewenspotensiaal vir iemand wat hoop in God word deur gehoorsaamheid en dienswerk uitgebrei. Leer saam met en van andere. Laat jou visie vir die toekoms ontwikkel word in die leerskool van ander se visie (Spr. 29:18). Die gemeente behoort die “kweekhuis” te wees vir die ontwikkeling van ons eie visie vir Goddelike dienswerk.

#6. Beplan Prioriteite Saam (Matt. 6:31-34; Ef. 5:10-17)

Beplan jou prioriteite. Bemeester jou vermoë om jou tyd te bestuur. Organiseer jou lewe en sluit jou gesin daarby in. Maak die beste van elke geleentheid (Ef. 6:10-20). Die tyd wat ons in gebed spandeer is meer waardevol as die tyd wat ons in beplanning spandeer. Beplan dan ook om as gesin saam te bid!

#7. Leer Van Ander (2 Kor. 4:7-18; Fil. 2:17-30)

Niks wat die moeite werd is kom sonder opoffering nie. Die lewe is gevul met kritieke oomblikke waar ons een ding van waarde moet verruil vir ‘n ander. Maak seker jy gebruik ‘n goddelike waardestelsel wat op God se Woord gebaseer is. Mentorskap sal hierdie waardestelsel ontwikkel en jou lei om te leer van ander wat vas op die Woord staan en in ‘n ware verhouding met Jesus Christus is.