'n Volmaakte wêreld

deur Stan Ingham van Herald of Hope

“So moet julle dan bid... laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Matt. 6:9-10).

God het deur die profeet Jesaja die volgende gesê: “O Sion, verkondiger van goeie boodskap... Hier is julle God! Kyk, die Here sal kom as ʼn Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig” (Jes. 40:9-10).

Sou dit nie wonderlik wees om in ʼn wêreld te lewe waar vrede en geregtigheid heers nie? In elke stadium van die mensdom se geskiedenis het die Bybel die slegte toestande reg beskryf en dinge wat gaan gebeur, reg voorspel. Dit is eenvoudig te veel om hier op te noem!

Paulus se twee briewe aan Timoteus som die toestand van die wêreld op. Die prentjie van ʼn gevestigde kerk en Christendom in die laaste dae is vandag net soos dit sal wees voor die koms van Christus, om Sy getroue volgelinge in heerlikheid weg te neem. Jesus waarsku: “...maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Luk. 18:8)

Die kerk van Laodisea is ʼn hartseer weerspieëling van die toestand van Westerse kerke vandag. Dit was ryk en populêr. Die gemeentes was groot, met baie vorms van aanbidding, maar Jesus was nie mense se eerste liefde nie. Hy was ʼn ikoon, maar het nie deel aan die aktiwiteite gehad nie. Die emosiebelaaide aanbidders het ʼn dowe oor op Sy uitnodiging gedraai en Hy beskryf hul as Christene wat in ʼn diepe toestand van geestelike armoede verkeer en veroordeel hulle: “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie... Maar nou...sal Ek jou uit my mond spuug. Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou” (Openb. 3:15-19).

ʼn Sondige Wêreld is die realiteit.

Die apostel Paulus het ʼn afname in die diepte en kwaliteit van Christene se geestelike lewens in die laaste dae voorspel: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom” (2 Tim. 3:1).

In die volgende ses verse noem Paulus 22 kenmerke van mense wat in die laaste dae leef en hierdie gesindheid is vandag nog onder Christene te vind. “Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word...” (2 Tim. 3:13).

Om hierdie korrupsie vry te spring, moet ons volhard in wat ons uit die Skrif geleer word: “Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus” (2 Tim. 3:14-15).

Die brief eindig met die versekering dat God se krag in staat is om ons van die wêreld te verlos en om ons vir Sy hemelse koninkryk voor te berei: “En die Here sal my verlos van elke bose werk en my red om in sy hemelse koninkryk in te gaan. Aan Hom die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.” (2 Tim. 4:18)

Timoteus word in die eerste brief deur Paulus gewaarsku: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete” (1 Tim. 4:1-2).

ʼn Vyandige Wêreld – Oorloë en Gerugte van Oorloë

Die globale etos vandag is een van intense afguns, selfsug en haat. Die nasies maak geen geheim daarvan dat hulle hoofdoel in die lewe is om die Jode uit te roei en Israel word gedwing om terug te val. Dit is ʼn skrikwekkende realiteit dat die afgryse van moderne oorlogvoering reeds in sommige lande plaasvind en dalk op ʼn internasionale vlak kan begin.

Jesus het die vyandige stand van die wêreld, voor Hy terugkom om die sondige wêreld te oordeel en Sy koninkryk te vestig, voorspel. Baie Skrifgedeeltes bevestig dit. In Matteus 24 waarsku Jesus ons teen rampe soos nog nooit ervaar is nie. Die punt wat Hy beklemtoon het is dat die Jode, Sy eie mense, die teiken van die vyandigheid sal wees. Hulle sou skielike swaarkry ondervind en gedwing word om te vlug. Hulle oordeel sal gedurende die eerste deel van die groot verdrukking begin. Jesus het gesê: “Sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaria, die seun van Berekja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar” (Matt. 23:35).

Jesus het die Jode en die Joodse leiers aangespreek omdat hulle die profete wat God se boodskap aan hulle gebring het, doodgemaak het. Hy wou dat hulle hul toevlug vir beskerming tot Hom neem, “net soos ʼn hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie!” Die Here het ook Sy eie kruisiging en verwerping voorspel: “Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” (Matt. 23:37-38) Die nasie is egter nie afgeskryf om sonder hoop te leef nie, want Hy sê: “Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39)

ʼn Gevalle Wêreld – maar daar is Hoop!

Lees ons Openbaring, sien ons dat Jesus se waarskuwings van komende oordele in die groot verdrukking, die derde weë insluit wat teen Satan en die Antichris gerig is. Dit sê dat die Koning kom met oorwinning, om die wêreld in geregtigheid oor te neem. “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openb. 11:15).

Dié wonderlike verklaring vertel van die hemelinge wat met blydskap op hulle aangesigte neerval en God aanbid: “Ons dank U, Here God, Almagtige, wat is en wat was en wat kom, dat U u groot mag aangeneem en as koning geheers het” (Openb. 11:17).

Wanneer Christus uit die hemel neerdaal, sal ʼn heilige oordeel op ʼn sondige en woedende wêreld - hulle konings, kapteins, magtige mense - uitgegiet word. Johannes beskryf hierdie wonderbaarlike gesig: “Toe het ek die hemel geopen gesien; en daar was ʼn wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ʼn vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ʼn Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. En Hy was bekleed met ʼn kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God” (Openb. 19:11-13).

Die hemelse leërs wat die oorwinnende Christus op wit perde volg, is geklee in suiwer wit linne wat van hulle “opregtheid” getuig. Die Seun van God het as ʼn baba in genade gekom om ʼn gevalle wêreld te red, maar nou is die tyd van oordeel. “En uit sy mond gaan daar ʼn skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ʼn ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid van die toorn van God, die Almagtige. En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: DIE KONING VAN DIE KONINGS EN DIE HERE VAN DIE HERE” (Openb. 19:15-16).

Die name wat Jesus met Sy tweede koms sal ontvang, is merkwaardig. Met Sy eerste koms was Hy voorgestel as “die Woord” (Joh. 1:1) wat vlees geword het, en onder ons kom woon het (Joh. 1:14).

In hierdie tydperk is “die swaard van die Gees” die Woord van God. Dit is “vinnig (lewend) en kragtig, skerper as ʼn tweesnydende swaard” en stel ons in staat tot wedergeboorte en om die gewoontes van die ou vleeslike natuur af te lê (Kol. 2:11; Kol. 3:9; Rom. 6:6; Rom. 8:13; Gal. 5:24, ens.), om rein te bly (Joh. 15:3), om te lewe tot God se eer en om die boodskap van die Kruis uit te dra (Kol. 3:16; Ef. 6:10-20). Mense was verwonderd oor die wonderlike woorde van genade, wat deur die Woord wat vlees geword het, verkondig is (Luk. 4:22). Wanneer Hy weer kom, sal daar egter ʼn swaard uit Sy mond uitgaan “om die nasies te vernietig” (Openb. 19:13-15).

ʼn Afwagtende Wêreld Wag op die Koms van die Koning

Vierhonderd jaar voor Jesus as Verlosser aarde toe gekom het, het die profeet Sagaria aangekondig dat Hy aan die einde van die groot verdrukking weer terug sal kom en Sy voet sal plaas op die plek waar Hy opgevaar het. “En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ʼn baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide” (Sag. 14:4).

Dan en net dan, sal die mense se begeerte vir ʼn volmaakte wêreld en regverdige regering onder ʼn heilige Koning realiseer. God het Israel as ʼn instrument gekies, ʼn heilige nasie deur wie Hy kon werk. Hulle was as die Here se getroue volgelinge gekies om die kennis van Sy waarheid en heiligheid te versprei – ook die grootheid van Sy krag en die heerlikheid van Sy heilige Naam – die enigste Ware God. Hulle het natuurlik misluk. Oordeel het gevolg en God het Israel tydelik eenkant gestel totdat hulle bekeer.

Die kerk is Nuwe Testamentiese, wedergebore mense wat bestaan uit beide Jode en heidene (nie-Jode), om deur weergeboorte en sonder onderskeid in een liggaam God se getuies te wees en te getuig dat Hy alle sondaars tot bekering roep gedurende hierdie tydperk van genade.

God is egter nie klaar met sy uitverkose nasie, Israel, nie. Aan die einde van hierdie tydperk, sal die kerk van Jesus onmiddellik verheerlikte opstandingsliggame ontvang en tot in die teenwoordigheid van God weg-gevoer of weggeraap word (1 Tess. 4:16-18). God het ʼn tyd gestel waar Hy finaal met Israel sal handel en hulle, deur die Evangelie van die Koninkryk, tot Hom terug sal bring. Dan sal die tydperk van kerk of die dispensasie van genade klaar wees: “...totdat die volheid van die heidene ingegaan het” (Rom. 11:25).

God het ʼn spesiale dag daargestel om ʼn einde aan heidense oorheersing van Israel te maak. Jesus het gesê: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24).

Hierdie spesiale dag waar Israel tot bekering sal kom en herstel sal word, sal gedurende die verdrukking, sewe jaar na die wegraping, plaasvind. Dit sal gepaard gaan met die wederkoms van die Messias waartydens ʼn geredde en herstelde Israel dan haar regmatige plek van leierskap in die heilige Koninkryk sal inneem. “Want die nasie en die koninkryk wat jou nie sal dien nie, sal ondergaan, en dié nasies sal seker verwoes word” (Jes. 60:12).

ʼn Geregverdigde Wêreld – Christus regeer met ʼn “ysterstaf”

Die Ou Testamentiese Skrif is vol beloftes en hoop van ʼn wêreld waarin geregtigheid, vrede, vreugde, gesondheid en voorspoed onder die Messias van God sal heers (Jer. 30:9; Eseg. 34:23-24). Sy Naam sal wees “die HERE ons Geregtigheid”. Satan sal dan in ʼn bodemlose put opgesluit wees (Openb. 20:1-3) en Jesus sal “Koning wees oor die hele aarde” (Sag. 14:9) en “alle nasies met ʼn ysterstaf” regeer (Openb. 12:5). Daar sal nie meer sonde wees nie. Hierdie tydperk van die Messias se aardse heerskappy sal vir eenduisend jaar duur. Die profeet Miga beskryf die houding van die mense in daardie dag soos volg:

“En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die Here en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem” (Miga 4:2).

God sal leermeesters aanstel om die nasies te leer: “En Ek sal aan julle gee herders na my hart, wat julle sal oppas met kennis en verstand” (Jer. 3:15). “En al jou kinders sal deur die Here geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees” (Jes. 54:13).

Ons kan die effektiwiteit van dié leerprogram vanuit Habakuk se verklaring oordeel: “Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Hab. 2:14).

Daar sal egter kinders in die duisendjarige vrederyk gebore word wat nie op die lering sal reageer nie. Dit is moeilik om te verstaan hoekom sommige in sulke ideale omstandighede redding sal weier, maar wanneer Satan na die eenduisend jaar vrygelaat word, sal hy almal wat ongered is, in opstand versamel vir die grootste oorlog ooit. Miskien sal hy mense mislei, deur hulle te laat verstaan dat sy vrylating ʼn oorwinning oor Christus was en dat hy groter mag het.

Die Here self sal dan met vuur uit die hemel met dié verleier en die wat mislei is, afreken. Die wat ongered is, sal dan opgewek word om voor die Here te staan en “by die groot wit troon” geoordeel word. Elkeen sal sy loon ontvang en in die groot “poel van vuur” gegooi word. Wat ʼn vreugde sal dit nie wees vir ons wat gered is, om deur die genade van God onder die menigtes van alle eeue te wees wat aan die eerste opstanding sal deelneem en saam met Christus in Sy goddelike, wêreldwye regering sal heers (Openb. 3:21; 5:10; 11:15-17; 15:4; 19:16; 20:4,6).

Die hemelse leërskare, sowel as die Sataniese leërs en alle mense van alle geslagte, sal weet dat Hy wie die enigste reg het om te regeer in ʼn volmaakte wêreld, met ‘n ysterstaf sal heers. Die Here God, Skepper en Verlosser, sal uiteindelik alles onder Sy voet plaas en finaal wegdoen met Satan, wat die heerskappy van Adam weggeneem het. Die wêreld is nou dalk op sy mees onvolmaakte, maar eendag sal Jesus kom om alles te herstel en in Sy persoonlike hoedanigheid ʼn volmaakte nuwe hemele en aarde inlyf.

Toepassing: Ten spyte van hoe die wêreld lyk, kan Christene met geloof, hoop en liefde doen wat hulle daagliks moet doen, maar met verwagting uitsien na die koms van Jesus Christus