Perspektiewe oor Leierskap

Idees rakende leierskap

gedagtes deur dr. Marc Blackwell sr.

Moontlikheid en waarskynlikheid – As die moontlikheid bestaan dat iets kan gebeur, beteken dit nie noodwendig dat dit na alle waarskynlikheid gaan gebeur nie. Byvoorbeeld, die moontlikheid bestaan vir my om fiks te word en gewig te verloor, maar die waarskynlikheid dat dit gaan gebeur mag dalk nie baie goed wees nie. Ek moet dus nie net dink aan die moontlikheid dat iets kan gebeur nie, maar ook die waarskynlikheid dat dit sal gebeur in ag neem. Wat is die verskil? Risiko! Leiers moet dink aan die risiko betrokke by die maak van besluite. Risiko beïnvloed nie die moontlikheid dat iets kan gebeur nie, maar wel die waarskynlikheid of dit wel sal gebeur. Leier moet die verskil ken en nie maak asof die een die ander is nie.

Geleentheid en verpligting – As ek die geleentheid sien om iets te kan doen, beteken dit nie noodwendig dat ek dit behoort te doen of dat ek selfs verplig is om dit te doen nie. Hierdie beginsel is van uiterste belang vir ons wat met oorvol skedules sit en sukkel om nee te sê vir projekte. As jy elke beskikbare geleentheid aanvaar, sal sommige geleenthede in verpligting verander en sal jy oneffektief raak in die sleutel areas waarvoor jy eintlik verantwoordelik is.

Uitdaging en onmoontlikheid – As ons die hardste take wat vir ons onmoontlik lyk wegwys, sal ons die uitdagings wat werklik die meeste waarde in ons lewens kan hê geheel en al mis. Kom ons wees eerlik! Ons hou eenvoudig nie van die dinge wat ons kwesbaar maak omdat dit ons forseer om deur geloof in die onbekende te laat ingaan nie. Ons kies eerder die bekende. Is enige iets onmoontlik vir God? Miskien sien jy die onmoontlike raak, net omdat jy ‘n berg van ‘n molshoop maak van die veranderinge wat jy moet implementeer en daarom leef jy maar rustig voort soos jy is.

Delegering en opdrag gee – As leiers die idee om aan iemand ‘n opdrag te gee verwar met delegering, sal hulle respek verloor. Delegering is baie meer as net die gee van opdragte. Om aan iemand ‘n opdrag te gee, is maklik, want ek gee aan hulle die opdrag en onttrek. Delegering behels egter baie meer as dit, want dit vereis dat jy ondersteuning sal bied en soms om dit saam met die persoon te doen. Delegering maak seker dat die persoon goed toegerus is om die taak te doen en dat daar groei sal plaasvind in die persoon se vermoë om die taak uit te voer. Leierskap moet nie net opdragte gee nie, maar delegeer met die toewyding van ondersteuning.

Verantwoordelikheid en outoriteit – Verantwoordelikheid beteken dat ek dit moet doen. Outoriteit beteken dat ek die vermoë om dit te doen reeds bemeester het op ‘n manier wat my vaardigheid en talente ewenaar of oortref. As jy wil hê dat dié wat aan jou rapporteer goeie volgelinge sal wees, gee hulle verantwoordelikheid. As jy hulle as leiers wil ontwikkel, wat voel dat hulle ‘n waardevolle deel uitmaak van die span, dan moet jy aan hulle outoriteit gee.