Raad aan 'n Enkelouer

Vraag: Hoe om die jong kind van ‘n enkel ouer wat kwellende dinge sê te beraad?

Eerstens wil ek net sê dat daar nie so baie oor hierdie betrokke onderwerp geskryf is nie, en die webtuistes wat iets daaroor te sê het, is in my opinie nie so betroubaar nie. Ek het dus dit wat die Woord in beginsel oor kinderopvoeding sê en my ervaring met enkel ouers en hulle kinders in ons gemeente gewerk.

1. Bybelse beginsels

  • Ons moet verwag dat enige kind in ‘n sondige manier sal optree, praat of gesindheid openbaar (Spr. 22:15; 58:3; Ps. 51:5). Vir kinders wat deur trauma gaan, is dit veral ‘n belangrike punt, want die emosies maak dit moeiliker.
  • Ouers of alleen-ouers het ‘n essensiële en onvervangbare rol om te speel in die versorging en opvoeding van hulle kinders (Ef. 4:6; Ps. 71:18; Ps. 78:4-7; Spr. 4:1-4; 19:18; 22:6, 15; 23:13-14; 29:15, 17; Jes. 38:19; 2 Tim. 1:5, 2Tim. 3:15; Heb. 12:7-10.)
  • Die ouers kan hierdie opvoedingstaak nie op hulle eie behartig nie en het die hulp van ander Christene, met ander woorde die kerk, nodig. In die geval van ‘n alleen-ouer, moet die kerk (nie die leraar nie) alle pogings aanwend om die ander ouer se rol te vertolk. In hierdie konteks is die groot-ouers van grot waarde.
  • Kinders moet verantwoordelikheid leer deur gehoorsaamheid aan instruksie en dissipline.

2. Algemene beginsels

  • Daar is ‘n verskil tussen berading en raadgewing. Bybelse berading lei ‘n mens uiteindelik om ‘n sondige daad of verkeerde gewoonte af te leer. In die geval van julle kleinkind is dit eerder ‘n geval van vertroosting (2 Kor. 1:1-5) deur die trauma.
  • Die ouer/alleen-ouer moenie verwag dat die kerk die probleme van ‘n kind moet oplos wat alleenlik deur ‘n gesonde huislike omgewing gedoen kan word nie.
  • ‘n Mens kan nie enige kind se probleme aanspreek as jy nie die struktuur in plek het wat die Bybelse oplossing sal ondersteun nie.
  • Kinders van daardie ouderdom leef in ‘n verbeeldingswêreld. Hulle sien nie konkrete dinge nie. Hulle verstaan nie konkrete dinge nie, maar ‘n verbeeldingswêreld.
  • Dit is my persoonlike gevoel dat groot-ouers nie die geestelike opvoedingsrol van ‘n pa of ma kan vervang of probeer inneem nie, maar dat hulle eerder moet probeer om die kerk te verteenwoordig. Vir praktiese raad en hulp, ja, dan is die groot-ouerskap belangrik, maar vir geestelike hulp, is die lang termyn rol van die kerk mees belangrik. Dit is juis relevant in die geval waar die alleenouer nie ‘n gereelde kerkganger is nie.
  • Struktuur en nie onbeperkte empatie nie, is die hulp vir kinders wat deur trauma gaan. Baie mense voel so jammer vir ‘n kind en die trauma waardeur hulle gaan dat hulle hierdie kind baie vryhede gee en min verantwoordelikhede. Hierdie vryhede kan lei na losbandigheid. Ouers en grootouers probeer oor kompenseer vir gebreke in die huis deur vryhede en bederf.

3. ‘n Praktiese plan

  • Begin dadelik by ‘n stiltetyd struktuur (2 maal per dag). Flip kan verduidelik wat julle nou gaan doen en ‘n gebed doen om God te vra vir leiding. ‘n Kort verhaal uit die Evangelies oor Jesus se lewe kan uit die Bybel gelees word. Bespreek tussen julle die betekenis van die Skrifvers en eindig met ‘n verduideliking van die evangelie. Sluit af met gebed.
  • Marinda se verhale. Marinda, net soos jy, is ‘n uitstekende storie verteller. Sy kan ‘n paar stories voorberei. Dit is my opinie dat gereelde storie vertelling wat diepliggende waarhede inweef met lewens situasies, die beste vorm van lering is vir ‘n kind van daardie ouderdom.
  • Geselsies wat kan ontstel. As daar geselsies is tussen julle, en die geselsies begin ‘n onverstaanbare verbeeldingswêreld uitbeeld, dan kan julle begin om ‘n konkrete Bybelse heldefiguur of Jesus in daardie verhaal in te bring.
  • Lang en kort termyn opvoedingplan. Begin om met julle skoondogter te gesels oor ‘n kort termyn plan vir die geestelike en skool opvoeding van die kinders. ‘n Ondersteuningsmeganisme of struktuur wat die kinders sal dra is die doel.

Bibliografie:

Robert E. Clark; Joanne Brubaker; Roy B. Zuck. Childhood Education in the Church. 1975. The Moody Bible Institute, Chicago (p.577-593)

Jay Adams. Competent to Counsel. 1970. Zondervan Publishing House