Die Evangelie en Islam

Sowat drie en ‘n half jaar gelede het ek en ‘n vriend met ‘n uitreik aksie na ‘n onbereikte stedelike gemeenskap naby aan my werk begin, waar ons probeer om weekliks ‘n besoek aan hulle te bring en oor ons geloof in die Here Jesus te praat.

Aanvanklik moes ons eers hul vertroue wen, en gevolglik het ons probeer leer van hul taal en so verhoudings begin bou. Gou het ons egter agter gekom dat al die mense in hierdie gemeenskap met wie ons te doen gehad het, Moslems was. So het ons dan ook meer van hierdie godsdiens begin leer, en sal ek graag van my indrukke in hierdie verband wil deel.

Islam is ten eerste nie ‘n godsdiens soos ons westerlinge daaraan dink nie. Dit is nie net bloot een komponent van jou lewe nie, maar eerder ‘n invloed wat poog om alle aspekte van jou lewe te beheer. Ek weet dat ‘n evangeliese Christen ook sal sê dat sy geloof in Jesus sy lewe ten volle behoort te beheer, maar hierdie Moslemse godsdiens se beheer is nie ‘n vredevolle en vrye oorgawe nie, maar ‘n vrees-gevulde onderdanigheid.

“Islam” beteken dan ook onderdanigheid. Hierdie godsdiens maak slawe van mense deurdat mense werke bepalend word vir jou saligheid. Die heilige boek van Islam is die Qur’an wat bestaan uit 114 hoofstukke of surahs, wat weer in verse of ayahs onderverdeel is. Baie is al oor die inhoud van Islam geskryf en ek sal nie poog om hier daardie detail weer te gee nie. U kan gerus die boek “A Christian’s pocket guide to Islam” deur Patrick Sookhdeo aanskaf in hierdie verband.

Wat mens dadelik opval in jou gesprekke met Moslems, is dat hulle meestal bekend is met die kern leerstellinge van die christelike geloof, en tegelykertyd gretig is om oor hul geloof te praat. Nie dat hulle altyd alles reg verstaan nie, maar hul weet meer van die Christelike geloof as wat die gemiddelde Christen van Islam weet. Een van die eerste besware teen Christenskap wat jy sal hoor van hulle, is dat hulle net een god dien en nie drie gode soos Christene nie. Ook dat alhoewel Jesus ‘n Profeet of Boodskapper was en wel openbaring van, soos hulle dit stel - Allah, ontvang het en uit ‘n maagd gebore is, hy nietemin nie God self was nie, en baie beslis nie God se seun nie. Volgens hulle sou God gemeenskap met ‘n mens moes hê om ‘n seun te kon voortbring, en dis ondenkbaar, die maagdelike geboorte (wat hulle erken) ten spyt.

Dit word ook gou duidelik dat in ons moderne era van tegnologie dvd’s, cd’s en ander literatuur waarin die Christelike geloof aangeval word vryelik beskikbaar en geredelik versprei is onder hulle. Wanneer mens dus begin gesels oor jou geloof in Christus, moet jy eers bereid wees om talle strikvrae en sogenaamde onsamehangende punte oor die Bybel te beantwoord. By ‘n volgende geleentheid sal ek meer hierop ingaan.

Ten slotte kan ek net noem dat dit ons ervaring was dat om deurgaans terug te keer na die onfeilbaarheid van die Bybel en die nodigheid van Christus se offerdood aan die kruis, en Sy persoon, die mees effektiewe manier is om hulle te evangeliseer. Ons herinner ons deurgaans daaraan dat ons net die saad saai en God die res sal doen.