Wat maak ons met Kersfees?

“Stille Nag, Heilige Nag alles rus eensaam wag…” Terwyl ek sit en luister na hierdie kersopvoering in musiek en die kinderstemmetjies en engelgesiggies geniet, dwaal my gedagtes na my kinderdae en die baie positiewe herinneringe rondom hierdie tyd van die jaar. Vir ons gesin was dit jaarliks ‘n jolige tyd waar die familie saamtrek en daar ‘n oorvloed was van alles waaraan jy kan dink. Met die afsluiting van Stille Nag word my gedagtes teruggebring na my gevoelens oor hierdie tyd van die jaar en waaroor dit alles nou eintlik gaan. Ek dink aan die hoeveelheid kere wat ek myself moes herinner aan die “ander” sy van hierdie feestyd en my nuutgevonde gewaarwordinge oor die heidense oorsprong van die spesifieke dag met sy gebruike en oordrewe kommersiële uitbuiting. Ek moes my self ouder gewoonte afvra: “Wat maak ek met Kersfees hierdie jaar?”

Wat van die Waarheid?

Is daar dan soveel mense wat nie verstaan nie? Is daar dan soveel Christene wat nie begryp waarmee hulle te doen het nie? Is daar dan soveel Christene wat onkundig is ten opsigte van die oorsprong van hierdie sogenaamde “Kersfees”, wat op die 25ste dag van Desember wêreldwyd gevier word. Weet hulle nie dan nie dat Jesus nie regtig op die 25ste van Desember gebore is nie en weet hulle nie dat die hele dag deur heidense afgodery bedink en berei is nie? Ek dink aan al die goed nagevorsde artikels en boeke wat ek gelees het van gelowiges wat ons waarsku teen die gevare en verkeerdhede van die wêreldse sy van hierdie tydperk. Hulle waarsku teen misleiding en om nie in losbandigheid ‘n kompromie met die wêreld aan te gaan nie. Ek dink terug na my eie oorreaksie oor die jare as gevolg van hierdie kennis.

“Al was ek nie daar nie, ek weet dit is waar”. Die hoë stemmetjies bring my gedagtes terug na die opvoering en my eie dogtertjies se deelname. Met helder, stralende ogies kyk hulle vol verwagting na die gehoor en vertel van die krip en Maria met die Kindjie by haar. Vir hulle is dit ‘n realiteit en hulle kinderlike geloof, wat sterker staan as enige hooggeleerde teoloog, aanvaar die boodskap sonder enige twyfel. Hulle sing: “Dis asof die engel die boodskap nog bring van Jesus sy vrede wat harte laat sing”. Hulle vra die vraag: Wat van Jesus en Sy vrede wat harte laat sing?


‘n Boodskap so oud soos die Mens

Die gemeente sing: “Herders op die ope velde, het die nag die engele koor, met die blye evangelie uit die hemel aangehoor”. Die Messias kom - Jesus Christus kom! Dit is die opwindende boodskap wat die engele aan die eenvoudige herder verkondig. Maar wat van die waarheid dink ek? Ons kan mos nie die waarheid net ignoreer nie. “Hoor die blye engele lied aan die Koningseun gebied: Vrede op aarde, aan God die eer! God daal tot die sondaar neer! Wil met elke hemeling ook aan God die loflied bring; voeg by engele koor u stem: God verskyn in Betlehem!” Wat ‘n boodskap? “Kom kinders besing met ‘n vrolike stem. Die wonder van God in die stad Betlehem. Want daar is die Heiland gebore die nag. Die hoop van die wêreld deur eeue verwag!” Dit is die goeie nuus soos wat dit deur Johannes verklaar is: “En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon – en ons het Sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid.” (Joh. 1:14)


Die Oog Gevestig Op Jesus

Wat maak ek met Kersfees hierdie jaar? As daar een waarheid is, is dit dat meer mense hulle oë van die Here Jesus afhaal as wat daar mense is wat hulle oë op Hom rig. Ons moet hierdie tyd dan gebruik om ons oë op die Here Jesus te hou en om ander aan te moedig om dieselfde te doen. “O siel is jy moeg en bekommerd? Geen lig in die donker sien jy? Daar’s lig as jy kyk na die Heiland, En lewe oorvloedig en vry. Hou die oë op Jesus, Kyk vol in Sy lieflik gesig: Alle aardse dinge word nietig en vaag, By die glans van Sy heerlike lig.” As daar een dag in die jaar is waar familie en vriende oop is om te praat oor die Here Jesus, meer as enige ander jaar is dit hierdie tyd. Ons kan die Kerstyd gebruik, nie om ‘n heidense fees te probeer verchristelik nie, maar om te getuig van Jesus se koms met die doel om ons te red. Maar wat van die waarheid? Ons moenie toelaat dat ons eie kennis ons so opgeblase maak, dat ons nie die geleentheid om te getuig kan gebruik nie en die evangelie ter wille van ons eie evangelie te syde stel en versuim om openlik met mense te praat oor die Here Jesus se eerste koms nie. Ons moet eerder die oog op Jesus plaas! Luister na Heb. 12:1-3 wat sê: “Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, (2) die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het. (3) Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie.”

Wat doen ons met Kersfees hierdie jaar? Sal ‘n kersboom jou hel toe stuur? Nie as jy ‘n weergebore kind van God is nie. Maar daardie kersboom kan ons die geleentheid gee om met familie en vriende en almal om ons te praat oor die realiteit van Jesus Christus se eerste koms om ons sonde aan die kruis te dra. Ons kan die geleentheid kry om te getuig van Sy opstanding en hemelvaart om nou vir ons in te tree voor die troon van genade. In dieselfde asem moet ons egter met meer ywer vertel van die werklikheid van Sy tweede koms en ons verwagting om Hom te sien. Terwyl ons lekker eet en kuier moet ons nie vergeet dat ons pelgrims is wat so leef “…terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus.” (Titus 2:13).